Ondersteuningsdienste

ondersteuningsdienste by willem postma

Willem Postma Primêre Skool bied ‘n reeks ondersteuningsdienste aan om elke kind se unieke leerbehoeftes aan te spreek. Die Middagstudiesentrum help leerders om hul akademiese potensiaal te bereik, terwyl ons remediërende onderrig daarop gemik is om agterstande in basiese vaardighede te oorkom. Prisma Possies fokus op kinders met leerhindernisse. Verder bied ons toegewyde skoolberader emosionele en psigiese ondersteuning om leerders se welstand te bevorder. 

Willem Postma is daartoe verbind om 'n omvattende en inklusiewe leeromgewing te skep waar elke kind kan floreer.

REMEDIËRENDE ONDERRIG

Die Remediërende Onderrig (R.O.) department streef daarna om leerders met leerhindernisse te help.  Ons spesialiseer in Wiskunde en Afrikaans. Die doel is om leerders holisties te ontwikkel en met selfvertroue toe te rus.Juf. Cornelle Jordaan is verantwoordelik vir lees en spel en Juf. Helét van der Merwe vir Wiskunde. R.O.-leerders word in nie-eksamen vakperiodes gehelp om enige agterstande in te haal.

Willem Postma se R.O. departement is ook verantwoordelik vir die afneem van die ASB-toetsings. Leerders word eers deur hul klasopvoeder geïdentifiseer en daarna deur die R.O. departement getoets. Skolastiese toetsings kan ook deur sielkundiges afgeneem word waarna leerders vir R.O. verwys kan word. Die R.O. departement en Prisma Possies werk saam, maar bied verskillende dienste.

****

Remediërende onderrig (dikwels na verwys as herstelonderrig) is ‘n gespesialiseerde vorm van opvoeding wat daarop gemik is om leerders te help wat sukkel om sekere vaardighede of konsepte te bemeester. Dit gaan nie oor die “oordra” van nuwe leerstof nie, maar eerder oor die regstelling of versterking van gapings in ‘n leerder se kennis.

1. Die Doelwit

Die hoofdoel is om ‘n leerder wat agtergeraak het, weer op dieselfde vlak as sy of haar portuurgroep te kry. Dit fokus dikwels op die fondament van leer van:

– Geletterdheid: Lees, spelling en skryfvaardighede.

– Syfergeletterdheid: Basiese wiskundige konsepte en logiese redenering.

2. Vir wie is dit bedoel?

Dit is bedoel vir leerders wat teen ‘n stadiger pas vorder as die res van die klas, dikwels as gevolg van:

– Spesifieke leerhindernisse (soos disleksie of diskalkulie).

– Gapings in vroeëre onderwys (byvoorbeeld as gevolg van siekte of skoolwisseling).

Probleme met konsentrasie of prosessering.

3. Hoe verskil dit van gewone onderrig?

Terwyl ‘n gewone klaskameronderwyser ‘n breë kurrikulum aan ‘n groot groep moet oordra, werk remediërende onderwys gewoonlik so:

Kleiner groepe of individueel: Dit bied die geleentheid vir intensiewe aandag.

Aangepaste tempo: Die leerstof word stadiger en meer herhalend aangebied.

Multisensoriese tegnieke: Daar word dikwels van visuele hulpmiddels, tasbare voorwerpe (soos blokkies vir wiskunde) en beweging gebruik gemaak om konsepte vas te lê.

Diagnosties: Die onderwyser ontleed presies waar die fout lê (byvoorbeeld: verstaan die kind nie breuke nie, of sukkel hulle bloot met die basiese tafels?).

4. Die rol van die Remediërende Onderwyser

Hierdie opvoeders werk dikwels nou saam met ouers en sielkundiges. Hulle skryf gereeld vorderingsverslae en pas die leerplan aan om by die kind se spesifieke behoeftes te pas, sodat die kind selfvertroue kan herwin en nie moedeloos word in die hoofstroomklas nie.

Kortom, dit is die veiligheidsnet wat verseker dat leerders nie deur die stelsel val wanneer die akademiese druk toeneem nie.

****

Wat is Konsessies?

Konsessies is spesifieke toegewings wat gemaak word om te kompenseer vir ‘n leerhindernis wat die leerder se spoed of prosessering beïnvloed.

Algemene voorbeelde:

Addisionele tyd: Gewoonlik 5, 10 of 15 minute ekstra per uur om leerders met stadige prosessering of leesprobleme te help.

Leesassistent (Leser): Iemand wat die vraestel hardop aan die leerder voorlees, maar dit nie verduidelik nie.

Skryfassistent (Skrywer): Die leerder dikteer die antwoorde en die assistent skryf dit presies so neer.

Spellingvrystelling: Waar punte nie afgetrek word vir spelfoute nie, mits die woord foneties herkenbaar is (dikwels vir leerders met ernstige disleksie).

Handskrifvrystelling: Word toegeken wanneer ‘n leerder se handskrif weens neurologiese redes onleesbaar is.

Waarom word dit toegeken?

Die doel is nie om die leerder ‘n onregverdige voordeel bo ander te gee nie, maar om die hindernis te neutraliseer.

Byvoorbeeld: As ‘n leerder briljant is in Wiskunde maar as gevolg van disleksie nie die vrae kan lees nie, toets die vraestel sy leesvermoë in plaas van sy wiskundige vermoë. Deur ‘n “Leser” toe te ken, kan die leerder wys wat hy werklik van Wiskunde weet.

Hoe word dit goedgekeur?

Dit is ‘n formele proses. Daar kan nie sommer net besluit word om ‘n leerder ekstra tyd te gee nie. Dit vereis gewoonlik:

Psigo-opvoedkundige assesserings deur ‘n sielkundige of terapeut.

Mediese verslae (indien van toepassing).

Bewyse van skoolwerk wat wys dat die leerder sonder die hulp nie sy potensiaal kan bereik nie.

Aansoek by die Onderwysdepartement wat ‘n amptelike goedkeuringsbrief uitreik.

****

Vir meer inligting: ro@wpps.co.za

R.O. bied gespesialiseerde onderrig wat daarop gemik is om leerlinge met normale intellektuele vermoëns te help met die oorkoming van probleme in bepaalde vakke of in spesifieke gedeeltes van ‘n leerplan.

Prisma Possies

Prisma Possies is vir kinders op die outismespektrum en met hindernisse tot leer.

  • Prisma Possies is ‘n klein, warm, gemeenskap-gedrewe omgewing gefokus op die uniekheid van elke leerder om tot hul volle potensiaal te ontwikkel. 
  • Leerders skakel op alle gebiede by hoofstroom-leerders in.
  • Struktuur, reëls en riglyne word in plek gestel en is belangrik vir ons leerders om te groei en te leer.  
  • Die hoofstroom-kurrikulum word gevolg met aanpassings waar nodig.
  • Onderskeie vakke word visueel met konkrete hulpmiddels aangebied.
  • Een-tot-een onderrig in Afrikaans word gebied.
  • Prisma Possies bied ‘n veilige omgewing met ‘n privaat tuin.

“Elke student kan leer. Net nie noodwendig op dieselfde dag of op dieselfde manier nie."

Ondersteunende Dienste Willem Postma Teacher - Isabel Homsek
Prisma Possies
Isabel Homśek
isabelhomsek@yahoo.com

Kontak ons gerus vir enige navrae

Willem Postma Primere Skool Personeel - Minette Botha
Emosionele Ondersteuning / Skoolberader 
(BEd, Hons Sielkunde, MTh Pastorale Berading, Spelterapie)
051 436 2730  /   mbotha@wpps.co.za

SKOOLBERADER

Minette is ons skoolberader. Sy bied emosionele ondersteuning en help leerders met vaardighede om die algemene welstand van die leerders en die Possie-familie te bevorder. Willem Postma-leerders se welstand is vir ons belangrik en dus sal ons graag u kind wil bemagtig en ondersteun waar ons kan. 

Ondersteuningsproses:

  1. Onderwysers kan leerders identifiseer wat ondersteuning verlang. Kontak sal dan met ouers gemaak word om toestemming te bekom.
  2. Ouers kan direk met Minette kontak maak  deur e-pos of deur die skool te skakel om ‘n afspraak te maak.
  3. Leerders kan self met Minette kontak maak  deur ‘n briefie in haar posbus te los of by haar ‘n draai te maak. Ouers sal gekontak word vir toestemming.

middagstudiesentrum

 By die Middagstudiesentrum is die fokus op huiswerk.  Daar is wel genoegsame speel- en eettyd voor ons begin asook ‘n pouse tussen die studiesessies. Die personeel by die studiesentrum het ‘n liefde en passie vir kinders. Daar is ook studente wat sal seker maak dat elke kind betyds by hul sport uitkom. Dissipline en roetine bly ‘n belangrike deel van die middag. 

Betaalbaar oor 10 maande teen die middagstudie-tarief wat sorg van die begin van die skool kwartaal tot aan die einde van die skooljaar insluit. 

Ons sentrum is oop van Maandae tot Vrydae vanaf na skool tot 17:30.

Kind Fooi
Eerste/Tweede kind
R1100 per maand oor 10 maande
Derde kind
25% korting
Dagfooi
R90 per dag

Vir enige navrae kontak gerus vir Trudie Venter: 079 989 9833 / middag@wpps.co.za

STIMULUS MAKSIMA

Stimulus Maksima is ‘n rekenaargesteunde onderrig wat daarop gemik is om ons Possies se lees en wiskunde vaardighede te verbeter. “Reading Rocket” word gebruik om leesouderdomme akkuraat te bepaal, taalkonsepte te bemeester, goeie leestegnieke te ontwikkel en bergripslees te bevorder. “Maths Muncher” word weer gebruik om hoofrekene te verbeter en diagnostiese ontledings te voltooi.

“Lees oefen jou brein om groot te dink"